"Al die mens se ellende spruit voort uit die feit dat hy nie stil en alleen in ‘n kamer kan sit nie". Blaise Pascal (19 Junie 1623 - 19 Augustus 1662) was 'n Franse wiskundige, fisikus, uitvinder, skrywer en Christelike filosoof. Voorwaar 'n man met vele belangstellings; lees meer op die Web hier. Miskien is filosowe beter daarmee as enigiemand anders om êrens rustig alleen te sit (dalk is dit deel van hul posbeskrywing). Hulle lees iets en dink daaroor terwyl hulle by ‘n venster uitstaar. Miskien trek hulle ook aan hulle oorlelle en tik met hulle vingers op die tafel? Om niks te doen is 'n soort van nagmerrie vir die meeste van ons. Wanneer daar geen afleiding, boeke, selfone of iPads is nie, is ons geneig om vinnig verveeld te raak. Vir sommige van ons is dit baie swaar. Dit is 'n interessante kwessie wat deesdae min aandag kry. Sommige spekuleer: om in verveling te leef, is om rou tyd te ervaar, d.w.s. om in die oomblik te leef en die volle gewig van jou sterflikheid en die verloop van tyd te beleef.